Wanneer ons droom oor kerk wees, kies ons om eerder vorentoe te kyk na die onbekende as agtertoe na die bekende. Ons wil nuwe, onbewandelde roetes stap en oop wees vir dit wat God vandag in Sy Kerk wil doen.
Ons droom van 'n plek waar mense bymekaar kom en 'n ware Jesus Christus kultuur ervaar. 'n Veilige ruimte waar tradisie en kultuur nie ons primêre identiteit bepaal nie, maar waar ons saam ontdek wat dit beteken om deel te wees van die Een Liggaam van Christus.
Ons wil saam as mede pelgrims op reis wees, oppad om Vader, Jesus en die Heilige Gees dieper te leer ken, Hom bo alles te aanbid en ons skeppingsdoel te ontdek.
Ons hart is om 'n plek te wees waar mense kan kom net soos hulle is. Waar daar ruimte is vir genesing, vrymaking, groei en 'n dieper oorgawe aan Jesus. Waar ons sensitief bly vir die stem en leiding van die Heilige Gees en bereid is om in gehoorsaamheid te stap waar Hy ons lei.
Ons verlang na die kragtige eenvoud van die Evangelie en na 'n manier van kerk wees wat relevant is vir die unieke tyd waarin ons leef. Ons wil nie bloot 'n tradisie beskerm nie. Ons wil God se hart hoor en daarin wandel.
Ons gebed vir die Wes Kaap is dat God mense se harte deur Sy Gees sal aanraak, stukkende harte sal genees, mense vrymaking sal beleef en dat ons as die Liggaam van Christus die Koninkryk van God sal uitleef en verkondig.
Kom stap saam met ons.
Saam vorentoe, in die voetspore van Jesus.
Met 'n hart vir mense en 'n diep liefde vir Jesus, stap Danie en Alida saam met die gemeente op hierdie geloofsreis. Hulle begeerte is om 'n veilige, huislike plek te skep waar mense God kan ontmoet, in geloof kan groei en hul plek binne die Liggaam van Christus kan ontdek.
Danie en Alida is deel van die gemeente se daaglikse lewe en geniet dit om mense persoonlik te leer ken. Hulle glo dat kerk ook gaan oor die eenvoudige dinge: om saam te kuier, mekaar te ondersteun, vir mekaar te bid en daar te wees wanneer iemand dit nodig het. Hulle deur is oop en hulle nooi mense uit om deel te word van die geloofsfamilie van AGS Kruis Gemeente.
Jy is welkom hier. Ons gebed is dat jy Jesus se liefde tasbaar sal ervaar hier, dat jy bewus sal wees van Heilige Gees se teenwoordigheid hier en dat jou lewe radikaal sal verander. Kom nes jy is. Vader God se plan vir jou lewe is vêr groter as wat jy besef. Kom stap saam met ons. Saam vorentoe in Jesus se voetspore.